Anna Jacoba Kruger
1783 - 1859 (76 jare)Joachim Hermanus Scholtz (1783-1834), notas van Bertus Scholtz
Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.
Hy is in die Bokkeveld gebore en het daar grootgeword. Op 17-jarige leeftyd het hy besluit om op sy eie te boer en het aansoek gedoen om ’n leningsplaas. Op 18 April 1800 skrywe veldkornet Gerrit Maritz, toentertyd veldkornet van die "Voorste Omtrek van ’t Middelste Roggeveld" aan die Landdros van Stellenbosch dat Joachim ’n plaas in die Klein Roggeveld wil hê. Sy burekla dat daar nie genoeg plek vir almal is nie en dat die plaas wat hy uitgesoek het, nie "bestaanbaar" is nie. Die Veldkornet meld dat hy die plek ondersoek het en met die bure staamstem.(KAB, Stb 103153)
Op 4 Julie 1801 word hy aangeneem en voorgestel as lidmaat van die N.G. Kerk en op 23 Augustus 1801 trou hy te Kaapstad met Anna Jacoba Kruger, dogter van Veldkornet Jacob Johannes Kruger, wat bekendheid verwerf het met die veldtogte teen die Boesmans. Veldkornet Kruger se plaas was "Oranjefontein" geleë in die Klein Roggeveld, ongeveer 20 km suid van die huidige Sutherland. Aangesien ’n plaas nie aan hom toegewys was nie en sy vader weens gesondheidsredes nie meer kon boer nie, is dit moontlik dat hy ’n gesamentlike boerdery bestuur het. Terwyl hy en sy gade hier gewoon het, is twee dogters uit hulle huwelik gebore en hulle is te Tulbagh gedoop. Gedurende 1804 het sy vader hom in Stellenbosch gevestig.
In Oktober 1805 kry Joachim toestemming van die Landdros om te verhuis en om hom in die distrik Graaff-Reinet te gaan vestig. (1/WOC -1/1 - 7/103 1805) Die jare 1803 en 1804 was bekendvir die kwaai droogte wat gedurende daardie jare geheers het en dit mag die rede vir sy besluit om te verhuis wees. Die jare 1803 tot 1806 was die jare wat die Bataafse Republiek die regering oor die Kaap uitgeoefen het. Die beperkings op die inwoners gelê (soos om eers toestemming te verkry voordat verhuis kon word) mag ook bygedra het tot die besluit om te trek.
’n Derde kind, weer ’n dogter, is in die distrik Graaff-Reinet gebore en is aldaar gedoop in 1806. Twee maal daarna, elke keer met die geboorte van ’n kind het hulle weer besoek in die Bokkeveld afgelê en van die geleentheid gebruik gemaak om die kind te Tulbagh ten doop te bring.
Die monsterrolle deur die Veldkornette van die verskillende wyke opgestel, toon hom in 1808 aan as woonagtig, "achter op Sneeuberg" en sy naam kom elke jaar so voor tot 1820. (KAB, G-R 14/117 - 1821-26)
Die naam van die plaas word nie aangegee nie, maar vermoedelik was hy die hele tyd op die plaas "Caroluspoort" woonagtig, met ’n tweede plaas "Bosjesmansfontein" vir bykomstige weiveld. Toe meer mense hulle in hierdie omgewing kom vestig het, was die buurt tot ’n wyk "Winterveld" van Graaff-Reinet, met ’n veldkornet, omskep. Volgens Mossop, bl. 286 het Joachim tydens die jaar 1824 in die Winterveld as veldkornet waargeneem.
Bogenoemde gegewens word bevestig deur die volgende gegewens: In 1809 is ’n opname gemaak en sy naam word aangegee as woonagtig op "Sneeuberg" en dat hy 35 beeste en 550 skape besit het.(KAB, G-R. J194)
In 1811 (KAB, G-R. J135 - Nr. 1230) word aangegee dat hy en sy vrou met ’n gesin van vier dogters en twee seuns in besit is van 1 slaaf, 430 skape, twee ryperde en 1 wa. Geen melding vantrekosse of ander beeste nie en die wa sou nie kon gebruik word nie.
Gedurende die jaar 1813 het weer ’n kwaai droogte geheers en baie van die burgers het hul leenplase verlaat om buite die grense van die Kaap Kolonie weiding te soek. Om Boere binne die grense van die Kolonie te hou het die Regering dit goed gedink om die stelsel waarop mense plase bewoon het, te verander, in ’n poging om mense vaster aan die grond te bind. Op 6 Augustus1813 is ’n Proklamasie uitgevaardig om die manier waarop mense plase bewoon het te verander. "The Proclamation gave the right to the holders of loan places to apply to the Government to have the same granted to them on Perpetual Quitrents (...ewigdurende erfpacht) subject to certain rights and privileges.." (History of Law, Medicine and Place Names in the Cape of GoodHope - C. Graham Botha - bl. 94.)
Blykbaar het Joachim van hierdie geleentheid gebruik gemaak want dit is duidelik dat hy ten minste vanaf die begin van 1817, indien nie alreeds vroeër nie, op die erfpagplaas (vroeër Rekwes - of Leenplaas) Caroluspoort, wyk Winterveld, distrik Graaff-Reinet bly woon het. Presies wanneer hy die tweede plaas "Bosjesmansfontein" verkry het, is nie duidelik nie.
In die boek "Ons Mooi Erfenis - Hanover 1856 - 1956 bl. 7" meld ds. A.P. Smit dat die wyk as die "wyk Seekoeirivier" bekend was en dat die plaas "Bosjesmansfontein" groot 7487 morge op30 April 1839 aan Joachim toegeken was. Joachim is reeds in 1834 oorlede en bes moontlik is die regte van die Boedel op die plaas erken. Die opmeting van die plase in die omgewing het reeds in 1825 begin. (KAB, G-R. 14/16)
Die twee plase is geleë ’n paar myl ten suidweste en die ander ook ’n paar myl ten noorde-ooste van die huidige dorp De Aar. Op Caroluspoort is ’n ou familiebegraafplaas waar ’n paar vanJoachim se kleinkinders, d.i. die kinders van Elsje Susanna en Pieter Daniël du Toit, wat later op die plaas gewoon het, begrawe lê.
Hierdie plaas moet nie verwar word met Caroluspoort, ’n spoorwegstasie op die spoorlyn tussen De Aar en Naauwpoort en na aan laasgenoemde plek nie. Skrywer het nog nie daarin geslaag omdie oorsprong van die naam te bepaal nie, asook nie die rede waarom die twee plekke dieselfde naam dra nie.
Reeds vanaf 1819 het boere af en toe oor die Oranjerivier met hul vee getrek om vernaamlik in tye van droogte, weiding vir hul vee te soek. Die gewoonte het toegeneem en vanaf 1825 was daar ’n gereelde trekkery heen en weer oor die rivier. Sommige boere het permanent noord van die rivier bly woon. (P.J. van der Merwe - Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek - bl. 130-134.)
Na 1830 was daar ’n aansienlike boerebevolking noord van die Oranje en na die groot droogte van 1837-38, het die getalle sterk toegeneem. Die meeste, wat nie noodwendig deel van die Groot Trek was nie, het hulle langs die Modder- en Rietriviere gevestig en later selfs langs die Kafferrivier. Na die ooste, langs die Caledonrivier was daar met verloop van tyd ’n sterk nedersetting. Dit was ’n normale uitbreidingsproses en baie van die mense het nie die Kolonie verlaat met die doel om die Britse bestuur af te werp nie.
Vanaf sy woonplaas het Joachim, met tussenposes van korte duur jagtogte na die noorde onderneem. Hy het ook twee groot jagtogte wat elke ’n jaar of meer geduur het, onderneem, hoofsaaklik met die doel om grootwild te jag. Volgens oorlewering en soos later deur ’n kleinseun van hom (Pieter Ernst d1e8f2) het van die korter jagtogte tot verby Paardeberg aan die Modderrivier noordwaarts gegaan. Die twee langer jagtogte het hom oor die Vaalrivier geneem in die rigting van die huidige Botswana. Die laaste van hierdie togte het meer as twee jaar geduur.
Skrywer (Bertus) vermoed dat die Vaalrivier oorgesteek was in die omgewing van die huidige Bloemhof - Christiana en nie verder in ’n noordelike rigting nie. Daar moet onthou word dat gedurende hierdie tyd die Matabele impis ’n groep Griekwa jagters om die lewe gebring het. Volgens die kleinseun bogenoem, het hy gedurende sy leeftyd 96 leeus geskiet.
Op die terugreis tydens die laaste tog het hy siek geword en is op 8 Maart 1834 oorlede. Sy vrou het later ’n grafsteen, van sandsteen, met die nodige besonderhede ingegrafeer, op die plek laat oprig.
Of die plaas daardie tyd bewoon was en dat hy by blankes oorlede is, is nie duidelik nie, maar later en wel teen ongeveer 1855 het die plaas die naam "Lokshoek" ontvang en dit het aan diebegin van die huidige eeu aan die heer Gert Visser, distrik Fauresmith behoort. Die graf was nie in ’n kerkhof nie en gedurende die twintigerjare van hierdie eeu is die grafsteen in dieveld gevind en die eienares van die plaas, die weduwee Visser, het die grafsteen na die Museum in Bloemfontein laat neem vir bewaring. Die opskrif is nog redelik duidelik en lees: "Hierleg mijn teer beminde man begrafe - Joachim Scholtz op de 8 Maart 1834. Zalig is de doden di in de Here sterf."
Ds. A.P. Smit, vir geruime tyd argivaris van die N.G. Kerk Argief in Kaapstad, het daarop gewys dat met die uitbreiding van die Kaap na die noordelike en oostelike dele die mense meestal in groepe van ’n paar families getrek en gewoon het. Joachim en sy gesin het vanaf die Bokkeveld beweeg saam met lede van die Jacobs, Viljoen en Strauss families. Van sy seuns het dan ook later met dogters uit hierdie families getrou. Hierdie families was dan ook weer met die Kruger familie van die Bokkeveld verbonde.
Volgens oorlewering het jagters soos David Hermanus Jacobs en Diederik Arnoldus Viljoen die jagkuns by Joachim geleer. David Jacobs het baie jare in die jagveld deurgebring sodat hy virlang tye buite verbintenis met die samelewing was. Op 17 Junie 1846 te Rietrivier, waar ds. W.A. Krige, met verlof van die leraar van Colesberg opgetree het, het Jacobs drie kinders laatdoop van wie die oudste alreeds op 13 Augustus 1839 gebore was.
Van die jonger geslag van hierdie families het hulle in die distrik Marico gevestig vanwaar hulle in die huidige Zimbabwe gaan jag het.
Volgens Selous in "A Hunter’s Wanderings in Africa" - bl. 34 het Petrus Jacobs meer leeus as enige ander persoon geskiet. Hy meld ook hoedat Petrus aan die Umniatirivier deur ’n gewonde leeu toegetakel is.
Met sy afsterwe, was Joachim ’n betreklike welgestelde man. Die inventaris van sy boedel toon aan dat benewens die twee plase, huisraad en ander los goed, hy twee slawe besit het, Damon 43 jaar oud en Dolphina 62 jaar oud. Aan lewendehawe het hy gehad 3162 skape, 218 bokke, 41 trekosse, 78 aanteel beeste, 8 waperde, 11 aanteelperde en 7 ryperde. Destyds was die boedel gewaardeer teen 9890 riksdaalders.
Oorlede "aan die Kromellenboogspruit oorkant die Oranjerivier". Dit is in die huidige Oranje Vrystaat en wel in die distrik, Fauresmith. Die presiese datum van sy afsterwe word nie in die sterfkennis gemeld nie.
Eienaar van die oorspronklike | Bertus Scholtz, Ian Scholtz |
Geskakel aan | Anna Jacoba Kruger; Joachim Hermanus Scholtz |