Nuwe Boekmerk
Jan Joachim Scholtz

Jan Joachim Scholtz

Manlik 1730 - 1804  (74 jare)

 

1 2 3 4 5 ... Volgende»     » Skuifie vertoning

Joachim Scholtz (1690-1738), notas van Bertus Scholtz

Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.

Joachim was afkomstig van die Hertogdom Altmark, Brandenburg, Pruise maar die naam van die dorp word nie aangegee nie. Die hoofstad van Altmark is die dorp Stendal, ongeveer een honderd en sestig kilometer wes van Berlyn en dus nou deel van Duitsland.

Joachim vertrek 15 Mei 1709 vanaf Texel aan boord die scheep "Mijnden" op pad na die Kaap. Hy arriveer na 4 maande en 15 dae te see op 1 Oktober 1719 in die Kaap.

Die klerk wat die register, met sy aankoms, ingevul het was Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van die Kaap. Tulbagh, "verhollands" dan ook die naam en teken dit nie in die regte Duitse vorm aan nie maar as "Jogem Schols".

Sy eerste betrekking aan die Kaap na sy aankoms as werknemer by die V.O.C. was as stalkneg. Die garnisoen se ruitery het natuurlik heelwat perde daarop aangehou en die stalle het heelwat aandag geverg. Gedurende die jaar 1721 is hy bevorder tot soldaat en die posisie het hy beklee tot 1722. Daarna, gedurende die goewerneurskap van Hendrik Swellengrebel, is hy op ’n dienskontrak as landboukneg deur die Kompanjie aan die landbouer, Barend Buys, woonagtig te Paarl, uitverhuur. (Malherbe - Barend Buys, aankoms 1715 vanaf Bruynswyk, Duitsland, trou 12 Oktober 1721 met Alida van den Berg. 12 kinders.) Barend Buys het geboer op die plase Blomkool en Witteklip. Vanaf 1 Augustus 1722 tot 15 Februarie 1725 was Joachim as boukneg in die diens van Barend Buys. Vermoedelik was Joachim verantwoordelik vir die boerdery op Witteklip terwyl Barend sy aandag aan die aktiwiteite op Blomkool geskenk het. (Familia XXIX/1992 Nr.2 bl 30.)

Die dienskontrak was vir een jaar vir ’n maandelikse vergoeding van 13 Gulden, Indiëse valuasie, en een pond tabak, benewens spyse, drank en ’n goeie huis. In die kontrak word na hom verwys as "soldaat Joghem Schols van Brandenburg". Hy onderteken die ooreenkoms slegs met sy voorletters J.S. onderaan. Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van die Kaap en skoonseun van Hendrik Swellengrebel, teken as een van die getuies. (KAB C.J. 2880: 31.)

In 1725 het hy aansoek gedoen om "Vryburger" te word. Blykbaar het hy nie op hierdie stadium op sy eie gaan boer nie want hy het, sover vasgestel kon word, geen aansoek gemaak vir ’n stukgrond nie. Op hierdie stadium was hy ook nog nie getroud nie, en was in die omgewing van Paarl / Drakenstein doenig.

Op 3 April, 1727 tree hy te Paarl in die huwelik met Anna Maria Swart (toe die weduwee Strang met drie dogters). Hulle eerste kind, ’n seuntjie is te Paarl gebore en gedoop. Daarna moes hulle vir ’n tydperk na Kaapstad verhuis het, want op 8 April, 1729 laat hulle in Kaapstad ’n gesamentlike testament opstel. Hier word hy beskryf as burger van Drakenstein (toe nog deel vandie gemeente Paarl) en op daardie oomblik "lichtelijk ten bedde leggend". In hierdie geval maak hy slegs ’n kruise vir sy naamstekening. (KAB C.J. 2604 : 40). In 1730 is hulle terug in Drakenstein, want op 18 Mei, 1730 laat hulle hul tweede seun te Paarl doop.

In 1732 het sy vrou, Anna Maria Swart, hom ontval. Die boedelrekening, gedateer 8 Desember 1734 toon aan dat hy die bedrag van 109,14 riksdaalders uit die boedel ontvang het. Blykbaar washulle buite gemeenskap van goedere getroud. Uit die boedelrekening blyk ook dat slegs een van die Strang dogters uit haar vorige huwelik nog in die lewe was. (Werklik die Raesen dogter.)

Op 26 Junie, 1732 terwyl hy nog onder Drakenstein resorteer het, was hy werksaam op die plaas "Hooggelegen" van Andreas Bester, naby Kaapstad. (Volgens "Die Afikaner-Familienaamboek" van Redelinghuys het Andreas Bester vanaf Magdeburg na die Kaap gekom.) Vanaf "Hooggelegen" stuur Joachim ’n "memorie aan die Goewerneur en die lede van Politieke Raad en hy vra hulp omdat hy arm en gebreklik is en dat hy dit moeilik vind om vir homself en vir sy seuntjie te sorg. Hy noem nie die Strang (Raesen) dogter nie. (KAB. Mss. Requesten, S-T. ; Leibrandt.) Waar die Strang (Raesen) dogter op daardie oomblik was, is onbekend. Haar naam verskyn nie onder die lyste van weeskinders na wie die verskeie gemeentes omgesien het nie. Sy is later met Jacob Kruger getroud en het toe na haar halwe broertjie, Jan Joachim omgesien.

Blykbaar het Joachim se gesondheid verbeter en hy het besluit om vir homself te gaan boer en om vir hom op die veeboerdery toe te spits. Plase in die gevestigde gebiede was nie meer maklik beskikbaar nie en nuwelinge moes hulle na die grense wend. Wei-lisensies, wat gebruiksreg oor ’n stuk grond gegee het, maar nie besitreg nie, was beskikbaar. Aangesien die weiregte ook slegs tydelik was, het die amptenare van die Kompanjie ook nie veel moeite gedoen om by ’n baie spesifieke beskrywings van die plekke te gee nie; hulle was in elk geval onbekend met die omgewing van die plase. Die beskrywings was soms heeltemal ontoereikend en die amptenare het nie omgegee of die eienaar van die weiregte ander persone in hulle regte te na kom nie, of lastig sou val nie.

In 1725 was die getal veeboere aan die noordelike grens alreeds 50 in getal en in 1735 word die getal aangegee as 135 huisgesinne. Gedurende 1725 en volgende jare het die Swartland vinnigontwikkel en teen daardie tyd het die eerste veeboere hulle reeds in die vallei van die Olifantsrivier gevestig en permanente en duursame opstalle het ontstaan. Die omvang van die plase was bereken dat dit ’n deursnee van een uur se stap moes hê d.w.s. ongeveer drie myl by drie myl of naastenby 3 000 morg.

Op 10 Desember 1732, word aan Joachim toestemming verleen om vir een jaar met sy vee, wat hy blykbaar reeds moes besit het, op die veepos "Kanse Fonteijn" in die vlakte van die Piquetbergom op die verlate plaas van Gerrit van Aardt te staan. (KAB R.L.R. Nr.9. -395.) Terwyl hy met sy vee hier gestaan het, is hy op 31 Mei, 1733 te Stellenbosch weer getroud met die weduwee van Arij van Wijk t.w. Antoinetta Campher. In die huweliksregister word, egter, nog na hom verwys as ’n burger van Drakenstein. Uit die huwelik is geen kinders gebore nie, maar gesamentlik was hulle verantwoordelik vir die Strang (Raesen) dogter, wat haar weer by Joachim gevestig het, Joachim se seun, en die tien van Wyk kinders van Antoinetta.

Op 13 September 1733 het hy toestemming ontvang om hom op die plaas "Elandskloof over de Olifants Rivier" te vestig. (KAB R.L.R. Nr. 9. -839.) Blykbaar het hy nie onmiddellik verhuis nie,want op 9 Oktober 1733 rapporteer Jacob Kruger, die Veldkornet, dat Joachim nog op "Kanse Fonteijn" staan.

In die gemeentlike uitgawe "Ons Kerk in die Bo-Olifantsrivier, Citrusdal, 1716 - 1966" gee ds. A. P. Smit die naam van die aanlegger en eerste eienaar van hierdie plaas as "Joachim Schultz". Die oorspronklike inskruiwing waarna verwys word is nagegaan en alhoewel die dokument ietwat onduidelik is, blyk dit tog om "Joachim Scholtz" te wees. Wat wel verbasend is, is dat die naam in hierdie geval korrek gespel is deur die Nederlandse amptenaar.

In sy boek "So the High Road" vermeld Jose Burman dat twee bergpasse wat gebruik was om die Bo-Olifantsrivier en omgewing te bereik t.w. "Piekenierskloof en "Karbouskloof" wat naby die huidige Porterville geleë was, is die afgelope honderd jaar nie meer in gebruik nie. Blykbaar is die oorspronklike "Piekenierskloof" die oudste van die die twee paste en was reeds in 1660 ontdek.

In 1685 het Simon van der Stel ook die pas gebruik met sy tog na Namakwaland. Die plaas "Elandskloof" het op die pad na die Bokkeveld gelê.

Op "Elandskloof" het dit ook maar moeilik met Joachim gegaan en sy tweede vrou het hom hier in 1735 ontval. Die begraafplaas kon nie opgespoor word nie.

Ds. Smit wys daarop dat in die jare dertig (1738-1739) was die gevaar van rooftogte deur die Boesmans so groot dat die Boere van Agter-Piketberg hul plase moes ontruim en dat die Boesmans’n skrikbewind in hierdie streke gevoer het. Joachim moes ook plan gemaak het om van die heel voorste poste verder terug te val en hom te vestig waar die aanslae en diefstalle van die Boesmans nie so erg was nie.

In die gemeentlike uitgawe van "Die Geskiedenis van Malmesbury" word vermeld dat die Swartland al teen hierdie tyd taamlik beset was en dat oop waters en fonteine omtrent alles al opgeneem was en beset was in bewoonde plase. Onder hierdie omstandighede het Joachim besluit om eiendomsreg oor ’n plaas in die meer besette deel te verkry. Hy het die plaas "De Klijne Vogelvallei" aan die Piquetberg gekoop, en hy het hom aldus teruggetrek na die "Swartland" as eienaar van ’n plaas in teenstelling met die vroeëre geval waar hy sleg weiregte gehad het.

Terwyl hy hier in die Swartland woonagtig was, het hy hom aan die veeboerdery sowel as die landbou toegelê, het hy omstreeks 1736 ’n manlike slaaf van Abraham Paling vir 120 Riksdaalders gekoop. Die slaaf is op skuld gekoop en die finale vereffening van die koopsom het met die Boedelrekening van Joachim plaasgevind.

In 1738 is Joachim hier op die plaas " De Klijne Vogelvallei", aangrensend aan die huidige dorp Piketberg, oorlede en vermoedelik begrawe. Met die boedelvendusie op 23 September 1738 het Hendrik Kruger die plaas gekoop vir 1088 Riksdaalders. Die boedelrekening Nr. 16 van 1739 is deur die "Weesmeesteren" aanvaar en onderteken op 31 Julie, 1739. (KAB MOOC 13/4.)

Alhoewel Hendrik Kruger in die boedelrekening aangegee word as die koper van die plaas, moet daar tog bedenkinge daaroor bestaan want hy was op daardie tyd slegs 12 jaar oud. Dit is waarskynlik dat sy ouer broer Jacob Kruger, wat ook stief-skoonseun van Joachim was want hy was met die Strang (Raesen) dogter getroud, die plaas namens Hendrik gekoop het. Jacob het vanaf 1734tot 1752 weiregte agter die "Blaauwberg" gehad en in 1752 het hy na die Roggeveld verhuis. (Sien Dr. E.E. Mossop "Lives of the Krugers told in a revised Genealogical Table" - Argief Jaarboek vir SA Geskiedenis - 1947.)

Toe Joachim die plaas "Klein Voëlvlei" soos dit tans bekend staan, in besit geneem het, was dit ’n verlate plaas en dit kan aanvaar word dat die verbeteringe daarop minimaal was. Watter verbeteringe hy aangebring het kan onder omstandighede nie vasgestel word nie maar aangesien dit tot op daardie tydperk slegs as weiregteplaas gebruik was en dat daar geen prys vir die plekbetaal was nie, moet daar aanvaar word dat daar geen verbeteringe op die plaas was nie. Watter verbeteringe Joachim wel aangebring het is ook nie duidelik nie maar die feit dat na sy afsterwe die plaas vir daardie tyd ’n redelike prys verkoop is, moet dit aanvaar word dat daar wel verbeteringe aangebring was.

Volgens Hans Fransen en Mary Cook (The Old Houses of the Cape bl. 16) was daar ’n aantal jaar gelede ’n bouvallige huis nog op "Kleijn Vogelvallei" waarvan die kern moontlik baie oud was.Die huis was oorspronklik skynbaar T-vormig met ’n voorhuis, ’n slaapkamer aan die kant en ’n kombuis aan die agterkant.

Navraag het aan lig gebring dat daar grafte op die plaas was wat baie oud was, maar dat dat een eienaar vroeër die 20ste eeu besluit het om die grafte om te ploeg. Die eienaar van die plaas toe navraag gedoen was, was Mnr. Rossouw en hy kon nie die name van die persone wat op die grafte verskyn het, onthou nie.

Die dade en prestasies van sy nageslagte ten bate van die Afrikaner volk, sal egter, dien as nagedagtenis van hierdie pionier wat in ’n vreemde land, onder moeilike toestande waar selfs sy godsdiens hom ontsê was, sy heil kom soek het. Eendag sal sy nageslagte vir hom ’n gedenkteken oprig daar waar hy rus.

Die plaas "Elands Cloof" tans "Elandskloof"

Volgens beide Ds. Smit en Burman ("So High the Road") het ’n bergpas, waar die plaas "Elandskloof" geleë was, reeds in die 18e eeu die vallei van die Olifantsrivier met die plato van die Kou Bokkeveld verbind. Of ’n mens van Piekenierskloof en later van Kardouwskloof gebruik gemaak het om die Bo-Olifantsrivier te bereik moes die voortsetting van die reis na die Kou Bokkeveld oor "Elandskloof" gegaan het.

Burman gee die volgende beskrywing van die omgewing waar die plaas geleë is.

"The road led into the neck at the head of the valley. Looking back one could see the whole kloof, the farm and the steep rise of the road by which we had come; peeping through a gap at the end of the valley was the Bokkeveld Tafelberg. The hills were clothed in a rather scanty coat of protea and thorn, but the bed of the kloof was quite lush and fertile - we saw a wide valley, flanked by real mountains opening out before us. A river and various clusters of oaks and poplars were discernable, below green mountain slopes."

In 1862 is ’n sendingstasie vir Kleurlinge op die plaas gestig maar in 1952 met die stigting van ’n sendingstasie in Citrusdal het die sentrum van bedrywighede na die dorp verskuif en Elandskloof het ’n buitewyk geword totdat dit in Augustus 1961 aan ’n Mnr P.J. Smit verkoop is.

Die plaas, tans bekend "Klein Voëlvlei"

Sien "Die Huisgenoot" van 1 Februarie 1953 bl. 45 - "wat beteken die Naam? - Piketberg". Dr. P.J. Nienaber.

In Mei 1832 het ’n klompie mense wat in die omgewing van die huidige Piketberg en Vier-en-Twintigriviere gewoon het, ’n memorie by die Ring van Kaapstad ingedien waarin hulle gevra het omdie stigting van ’n afsonderlike gemeente in hierdie omgewing. Die Goewerneur het op aanbeveling van die Ring in Kaapstad die stigting goedgekeur..."

Daar moes toe natuurlik na ’n geskikte stuk grond gesoek word waar die kerk gebou kon word, en waar die dorp kon ontwikkel.

’n Plaas, wat as geskik beskou word, was "Klein Voëlvlei", wat aan die weduwee van Gideon Rossouw behoort het. Na langdurige onderhandeling is van die plaas afgesien omdat volgens die oordeel van die moontlike kopers die prys wat die weduwee gevra het, te hoog was. Die Goewerneur, Sir Benjamin D'Urban het toe op 31 Desember 1835 ’n grondbrief uitgereik waarin die regeringsplaas "Grootfontein", aangrensend aan "Klein Voëlvlei" aan die Kerkraad toegeken is en die dorp Piketberg is toe daar aangelê.

Joachim se agter-kleinseun, dr. J.W.L. Scholtz was dan ook die eerste leraar van die gemeente Piketberg.

Kinders van Joachim Scholtz en Anna Swart: 
b1. Johannes Paasen Scholtz, gedoop 21 September 1727. Johannes moes op 'n baie jeugdige ouderdom gesterf het want geen verdere verwysing na hom kan gevind word nie. 
b2. Jan Joachim Scholtz, gebore 28 Mei 1730 in die Kaap, oorlede 2 August 1804 in Stellenbosch. He trou 19 September 1748 in Swartland (Malmesbury), met Catharina Elizabeth van Wyk, gedoop 15 October 1730 in Kaapstad, sy sterf 18 Julie 1777 in "de Rogge Cloof", in die omgewing van Sutherland. Hy trou 'n tweede keer met Johanna Elizabeth Hamman op 22 November 1778 in die Paarl. Sy is gebore in die Drakenstein op 16 November 1750 en oorlede 3 August 1826 in die Swartland (Malmesbury).

Eienaar van die oorspronklikeBertus Scholtz, Ian Scholtz
Geskakel aanAntonetta Campher; Jan Joachim Scholtz; Joachim Scholtz; Johannes Paasen Scholtz; Anna Maria Swart

1 2 3 4 5 ... Volgende»     » Skuifie vertoning