Nuwe Boekmerk
Joachim Jacobus Scholtz

Joachim Jacobus Scholtz

Manlik 1822 - 1901  (79 jare)

 

Joachim Jacobus Scholtz (1822-1901), notas van Bertus Scholtz

Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.

Sy oudste broer was vernoem na sy grootvader en ’n broer van sy grootvader. Sy vader was egter, ook Joachim en blykbaar is hy vernoem na sy vader maar die toevoeging van die naam Jacobus is nie duidelik nie.

As kind het hy sinkingskoors opgedoen en was as gevolg daarvan verlam in die een been en as gevolg daarvan het hy met kurke beswaarlik oor die weg gekom. Sy moeder het in haar jeugjare in die Koue Bokkeveld ’n sekere mate van onderrig geniet en sy het die kinders onderrig. Dit is dan ook duidelik dat vernaam die ouer broers ’n redelike mate van onderrig geniet selfs tot so ’n mate dat ’n ouer broer "Japie" (b2c7d1e6) in staat was om ’n Republikeinse Konstitusie vir die Voortrekkers te Thaba 'Nchu op te stel. Hy het, aangesien hy nie aan die boerdery bedrywighede kon deelneem nie, hom toegelê op die onderwys en vernaam aan die onderrig van die Kerk se leerstellinge wat benodig was vir die aanname as lidmate. Volgens sy skoondogter, mev. C.J.E. Scholtz, in lewe van Annandale, Pietersburg, wat goedgunstiglik heelwat inligting aangaande hom verskaf het, het hy ’n pragtige stem gehad en was baie lief vir sing asook vir die kweek van blomme.

Hy het homself toe so goed as dit onder die omstandighede kon, bekwaam om as onderwyser op te tree. Gedurende die tweede helfte van die vorige eeu was onderwys geriewe in die Vrystaat en Transvaal en selfs in die Kaap Kolonie nog baie beperk en die rondreisende onderwysers en veral katkiseermeesters was in groot aanvraag.

Dit is duidelik dat hy heelwat rondgetrek het in verskeie dele van die Vrystaat en in Transvaal. Soms moes die gesin maande lank in tente woon voordat behoorlike verblyf vir "Meester" verskaf kon word. Waar die kinders slegs vir die aanneming gekatkiseer moes word was die verblyf van korter tyd. Die beloning was in sommige gevalle in die vorm van slagvee en meel, omdat kontantgeld ook maar baie skaars was. Mnr. J.F. Scholtz van Ventersdorp het aan skrywer gemeld dat hy as kind sy onderrig by hierdie "onderwyser" ontvang het.

Na die Mapochsoorlog (1880-1881) is gronde in die omgewing van Roossenekal aan burgers toegeken. Hy het ook hier ’n stukkie grond gekry en het hom daar gaan vestig want met die hulp van sy seuns kon ’n boerdery aan die gang gesit word. ’n Kenmerk van hierdie familie was dat hul so ’n eenheid uitgemaak het. Sy dogters het na hul huwelike nog naby die Ou Vader gebly en saam is hulle almal na die Konsentrasiekamp te Middelburg, Transvaal geneem. Die familie is swaar getref want hyself en sewentien van sy kinders en kleinkinders is te Middelburg in die Konsentrasiekamp oorlede. (Sien Worsteljare - Herinneringe van ds. A.P. Burger - Nasionale Pers Kaapstad, 1934 - bl. 81).

Daar op Middelburg alleen lê vandag nog die groot kerkhowe waar omtrent 2000 van ons vrouens en kinders begrawe is... onskuldige slagoffers van meedoënlose oorlogstaktiek.

Gegewens in verband met sy afsterwe is verskaf deur sy skoondogter Cornelia Olivier, getroud met Pieter Ernst Scholtz.


Eienaar van die oorspronklikeBertus Scholtz, Ian Scholtz
Geskakel aanJoachim Jacobus Scholtz