Nuwe Boekmerk

Geskiedenis

» Wys alles     «Vorige «1 ... 12 13 14 15 16 17 18 19 20 ... 31» Volgende»     » Skuifie vertoning

Jacobus Scholtz (1781-1827), notas van Bertus Scholtz

Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.

Gedoop deur ds. Buys 12 November 1827.

Op twintigjarige leeftyd begin hy as onderwyser van die Londense Sendinggenootskap onder die Hottentotte in die Noord-Weskaap werk. In 1803 gaan hy saam met ds. J.J. Kircherer na Nederland waar hy agterbly om aan die Universiteit van Utrecht en van Groningen te studeer. Op 25 Julie 1809 word hy finaal geëksamineer en as predikant georden voor sy vertrek na die Kaap, waar hy weens vertraging deur skipbreuk aan die kus van Engeland (Februarie 1810) eers op 24 April 1811 in sy gemeente op Swartland (Malmesbury) bevestig word.

As oud-onderwyser beywer hy hom vir die onderwys en deur sy toedoen is die eerste openbare goewermentskool daar in 1813 geopen; maar langdurige ontevredenheid oor hom bereik ’n hoogtepunt toe hy in 1820 deur die Kaapstadse kerkraad by die owerheid aangekla word omdat hy kinders doop, persone aanneem en bruidspare trou wat lidmate van die Kaapstadse gemeente is. ’n Ernstige bestraffing deur die Goewerneur volg. As afgevaardigde van Swartland is hy lid van die eerste Sinode van die N.G. Kerk (1824) waar hy onder meer meehelp aan die stigting van die Predikante-weduweefonds.

’n Uittreksel van "Suid Afrikaanse Biographiese Woordeboek Deel II" bladsy 651.

Daar hang ’n portret van hom in die konsistorie van die kerk in Malmesbury en daar bestaan heelwat geskrewe verwysings na hom. ’n Volledige lewensbeskrywing van hom verskyn in die boek, "Na Tweehonderd Jaar - Ned. Geref. Gemeente, Swartland" deur ds. A.P. Smit.

Daar is ook heelwat gegewens betreffende hom in "Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1652-1873" deur ds. A Moorrees.

Volgens ds. A.P. Smit, (bl. 65) het Jacobus op jeugdige tyd die roeping gevoel om vir die Here te gaan werk. Die onbekerde toestand van die heidene in sy eie vaderland het hom diep ter harte gegaan. Op twintig-jarige leeftyd, dus omstreeks 1801, het homself dan ook aangemeld vir die binnelandse sending wat gedurende daardie jare meer en meer aandag in die Kerk geniet het.

Saam met di. Kircherer en Anderson van die Londense Sendinggenootskap, het hy toe sowat drie jaar lank onder die Hottentotte in die noordweste van Kaapland gearbei en het veral verdienstelike werk gelewer deur onderwys aan die heidene te gee. (Sien die verband, Die Nederduitse Kerk in Suid-Afrika deur ds. A Moorrees, bl. 490.)

Sy begeerte om leraar te word het al sterker geword en toe sy vriend ds. Kircherer, in April 1803, vir ’n besoek aan Europa gereis het, het hy hom vergesel na Nederland en hy het daar agter gebly om hom aan die Universiteit van Groningen as predikant te bekwaam. Sy vader is in 1804 oorlede en hoe sy verdere studie gefinansieër was, is nie duidelik nie.

Tydens sy verblyf as student in Nederland het hy met Sibella Willemse in die huwelik getree. Teen die einde het hy die eindeksamen met sukses afgelê, en hy is daarop tot die evangeliediens toegelaat.

Op aanbeveling van dr. Wernich, destyds leraar van die Nederlandse gemeente, Austin Friars, in London gesetel, het die Britse regering hom kort daarna aangestel as leraar van een van die gemeentes aan die Kaap. Sy vrou het hom nie op die reis vergesel nie, sy het in London agtergebly om op die geboorte van hulle eerste kind te wag.

Sy reis het egter nie ver gevorder nie, want terwyl hy nog na aan die Engelse kus was, het ’n storm hulle oorval en die skip het gesink. Die jong predikant het met sy lewe daarvan gekom,maar al sy geld en besittings het in die slag gebly. Rot en kaal is hy terug na London. Onder datum 25 Februarie 1810, het hy vanaf sy herberg in London, ’n smeekbrief aan die Engelse regering gerig om aan hom ’n voorskot van ses maande se salaris te maak sodat hy nie alleen sy losies rekening kon vereffen nie maar om hom in staat te stel om hom weer met sy benodighede uitte rus. (Sien Theal - Records of the Cape - Band VII, bl. 258.) Met die terugslae het hy nie voor 1811 weer die Kaap bereik nie.

Kort voordat Jacobus in Nederland aangekom het, is die Vrede van Amiens tussen die Engelse en Franse onder Napoleon gesluit en die Franse leërmagte het uit die Nederland teruggetrek. Nederland het as die Bataafse Republiek te verskyn gekom en die Nederlanders het die Kaap weer in besit geneem na ’n Britse besetting vanaf 1795.

Gedurende die jare 1803-1806 het de Mist, as verteenwoordiger van die Bataafse Republiek die idees van die Franse Revolusie aan die Kaap ingevoer. Dit het die nuwe liberale wending sterk laat aan voel. Onder andere het hy die kerklike huwelik afgeskaf en dit vervang met ’n seremonie voor die landdros. Huwelike wat tussen die jare plaasgevind het verskyn nie in die registers van die Kaapse Kerkregister nie.

Die Kerk is deur De Mist, onder strenge beheer van die staat geplaas, en gedurende hierdie jare is liberale idees op die Kerk afgedwing. Met die tuiskoms van Jacobus was die Kaap reeds geruime tyd weer onder Britse bewind en hy moes heelwat verandering beleef het. Hyself het, egter nie die liberale invloede vrygespring nie, alhoewel hy nie so uitgesproke was soos sommige van die jonger leraars nie.

Teen die einde van Februarie 1811 is hy deur die Goewerneur van die Kaap as vaste leraar van die gemeente Swartland aangewys. Die gemeente het slegs ’n paar dae vantevore vakant geraak met die verplasing van die leraar, ds. M.C. Vos, na Swartberg (Caledon.)  Aan die einde van April word hy deur die bejaarde leraar van Kaapstad, ds. J.P. Serrurier, aan die gemeente voorgestel en in sy amp bevestig. ’n Week daarna het hy sy intreepreek gelewer.

Kort daarna het ’n ander slag die leraar getref, want sy seuntjie, Frederik Johannes Cornelius, wat in London gebore is, is in Kaapstad op 28 Jan 1812 op die ouderdom van 1 jaar en enige maande oorlede. (KAB, Sk. Junie 1797 - Des. 1821). Dat die slag hom baie swaar getref het, is duidelik uit wat die sendeling en reisiger, John Campbell, wat hom in Oktober 1813 besoek het, en lank met hom gesels het, van hom sê:- "Mr Scholtz has an elegant house and a large garden, but he was low-spirited, having never recovered his cheerfulness since the death of his only son. Living retired and doing little, the loss presses upon his frame." (Travels in Southern Africa - J. Campbell.)

Op 25 Julie 1815, is weer ’n seun aan die egpaar gebore en aan hom is die verengelsde vorm van die naam van sy peetvader ds. Johann Wilhelm Ludwig Gebhart van die Paarl gemeente gegee en dus John William Louis.

In 1824 het die eerste Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in SA sitting geneem en hy het as leraar van Swartland die sitting bygewoon. In "Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk-Gedenkboek by die Derde Eeufees, 1952" onder Redaksie van dr. T.H. Hanekom word op bl. 74 van hierdie Sinode gesê:- "Kerksielkunde is vir die Sinode van die allergrootste belang, omdat dit die geboorte van ’n sinodale verband was, wat bestem was om blywend te wees, en omdat dit die eerste stap was op die weg van vrywording van staatsoorheersing".

Op bl. 43 van bogenoemde boek verskyn ’n afdruk van die handtekeninge van die afgevaardigdes na hierdie vergadering en dus ook sy handtekening.

Wat die uitvoering van sy amp betref, het hy in sekere gevalle heel individualisties en miskien onoordeelkundig opgetree. In 1815 het die Kerkraad van Kaapstad alreeds gekla dat hy sekere ledemate wat onder die Kaapstadse gemeente ressorteer het en wie deur die kerkraad as onbekwaam bevind was om Belydenis van Geloof af te lê en deur hom as lidmate aangeneem was. In 1820 is ’n verdere klag nl. dat hy ’n huwelik in Kaapstad voltrek het en ’n kindjie gedoop het, sonder die toestemming van die Kerkraad van Kaapstad, teen hom ingebring. In antwoord op die klagtes van die Kerkraad het hy ’n skrywe aan hulle gerig, wat volgens die Kerkraad "onheusche uitdrukkingen" bevat het. Die gevolg was dat hulle ’n klag by die Goewerneur aanhangig gemaak het en dat die Goewerneur hom gelas het om hom in die vervolg te onthou van bemoeiing met die pligte van andere.

In "Die Ned. Geref. Kerk in SA 1652 - 1873" wys die skrywer daarvan ds. A. Moorrees, daarop dat die gevolg van die hele aangeleentheid was dat ons hier die vernederende en bedroewende skouspel aantref dat ’n kerklike vergadering die tussenkoms van die wêreldlike owerheid in ’n kerklike saak inroep, en ’n kerklike amptenaar aankla by die Goewerneur wat nie eens aan die Kerk behoort nie.
Op 12 November 1827 is hy plotseling en onverwags oorlede in sy 46e jaar nadat hy die gemeente van Swartland 16 jaar lank gedien het. Ds. Faure van Kaapstad het die begrafnis geneem. Die Nederlands Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, (Band 1826 - 27 bl. 473) het ’n kort waarderende verslag na die dood geplaas.

Sy gade het hom oorleef en sy is later ten huise van haar seun dr. J.W.L. Scholtz aan die pastorie te Piketberg oorlede.

Verwysings
(a) Ds. J.J. Kircherer

Hy was ’n geordende leraar, wat in Nederland afgestudeer het en wie in 1799 diens aanvaar het as sendeling van die Londense Sendinggenootskap. Nadat hy ’n tyd lank aan die Sakrivier in noordwes Kaapland saam met Anderson en Edwards gewerk het onder die Griekwas, het hy na sy terugkeer van ’n besoek aan Europa, leraar geword van die Ned. Geref. Kerk en hy was tyd lank herder van die gemeente van Graaff-Reinet.

In the Masonic Archives housed in the Cape Archives the following Free Mason is listed:
No. 606 Jacobus Scholtz born in the Cape. Initiated in La Charite Amsterdam in 1809 and a Master in de Goede Hoop by 1812.


Eienaar van die oorspronklikeBertus Scholtz, Ian Scholtz
Geskakel aanDominee Jacobus Scholtz

» Wys alles     «Vorige «1 ... 12 13 14 15 16 17 18 19 20 ... 31» Volgende»     » Skuifie vertoning