Kommandant Pieter Ernst Scholtz
1815 - 1881 (65 jare)Pieter Ernst Scholtz (1815-1881), notas van Bertus Scholtz
Geskryf deur Johannes Albertus (Bertus) Scholtz (1907-1997), gedigitiseer en beskikbaar gestel deur Ian Scholtz.
Aangesien hy vernoem was na die grootvader van sy moeder, Pieter Ernst Kruger, wat destyds veldkornet van die Bokkeveld was, en siende dat hy in die Bokkeveld woonagtig was en blykbaar nie na Graaff-Reinet kon reis nie, is daar afgereis na die Bokkeveld. Die kindjie is gedoop te Tulbagh deur ds. Jacobus Scholtz, ’n oom van die vader wat destyds in daardie gemeente leeraarwas
Pieter Ernst het hom nie lank na sy huwelik met Johanna, en vermoedelik in die jaar 1836 in die latere OVS gevestig en bes moontlik aan die Onder-Riet- en Modderrivier waar van sy broers hulle gevestig het. Met die doop van die twee oudste kinders in 1838 en 1840 onderskeidelik te Colesberg, word sy woonplaas deur ds. Thomas Read, soos sy gewoonte was, slegs aangegee as "over de grenzen."
Voor 1842 alreeds het hy hom na die Transvaal begewe en hy het hom in die omgewing van die Olifantsrivier, destyds in die distrik Lydenburg gevestig. ’n Suster van hom, Anna Dorothea, getroud met Johannes Botha, en ’n neef Pieter Ernst Kruger, na wie Krugerspos tussen Lydenburg en Ohrigstad vernoem is, het hulle ook in die Lydenburgse omgewing gevestig.
Teen die einde van 1847 en begin 1848 het daar taamlik onsekerheid in die omgewing ontstaan omdat gerugte van aanvalle deur die naturelle in omloop was. Potgieter het toe alreeds na die Noorde getrek en die Volksraad was aan bewind van sake.
Daar was ook gerugte (sekerlik kwaadwillig versprei) dat Hendrik Potgieter die naturelle aangehits het om die mense aan te val en gevolglik het van die mense die omgewing verlaat.
Op 29 Februarie 1848 het die Volksraad te Ohrigstad besluit om ’n kommissie bestaande uit J.H. Grobler, Piet Scholtz en Jacob de Klerk na Mooirivier te stuur om die toestand van sake met Generaal Andries Pretorius en die Volksraad aldaar te bespreek. Voor hierdie datum en alreeds op die 22 Januarie 1848 het hy te Olifantsrivier ’n memorie aan die Volksraad te Ohrigstad gerig waarin oor die optrede van Potgieter gekla word.
’n Verder memorie op dieselfde plek geteken en gedateer die 22 Februarie 1848 word ook aan die Raad gerig en daarin word gekla oor die optrede van Potgieter omdat hy weier om Andries Pretorius te ondersteun sodat hy Majoor Warden, wat hom toe te Bloemhof met ’n Britse garnisoen gevestig het, uit die Trans-Oranje te verdryf. Volgens oorlewing en blykbaar heeltemal korrek het hy Generaal Pretorius vergesel en aan die slag van Boomplaats deelgeneem.
Ds. Murray Jr. het teen die einde van 1849 sy eerste reis na die Transvaal onderneem. Voor daardie tyd moes die mense na die suide kom om hulle kinders te laat doop. In 1848 laat hy ’n kindjie, alreeds ses jaar oud, sowel as twee jonger kinders, deur Di. Faure en Robertson, wat die Trekkers langs die Riet- en Modderriviere besoek het, per geleentheid laat doop.
Die doop van die kinders was in Desember 1848 terwyl die slag van Boomplaats alreeds in Augustus 1848 plaasgevind het. Blykbaar het hy met sy familie met hom, Pretorius na die suide vergesel, met die doel om die kinders te laat doop, maar dat hy na die slag van Boomplaats dit nie nodig geag het om die grens na die Kaap Kolonie oor te steek nie. Die geleentheid om die kinders gedoop te kry het om egter voorgedoen en hy het dit aangegryp.
Teen hierdie tyd was hy blykbaar alreeds aangestel as Veldkornet want volgens ’n Raadsbesluit te Ohrigstad van 3 November 1847 moes Veldkornette die kieserslyste opstel en daar word gemeld dat Piet Scholtz, wat nie teenwoordig was nie, in kennis gestel moes word.
Na sy terugkoms uit die suide en sy deelname aan die slag van Boomplaats het hy, miskien as uitgesproke ondersteuner van Andries Pretorius, verhuis en het hy hom in die distrik Marico gaan vestig. Alreeds op ’n Volksvergadering te Potchefstroom op 22 Januarie 1850 en die daaropvolgende dae, word daar besluit dat P.E. Scholtz as lid van die Volksraad ingesweer moes word.
Volgens ’n besluit van Volksraad van Des. 1851 word aan P.E. Scholtz en kmdt. A. Stander opgedra om die westelike grenslyn tussen die Transvaal en die Barolongstam (Montsiao) vas te stel en af te baken. Die grens, wat later met die stigting van die Republieke van Stellaland en Goosen in die gedrang gekom het, het die erkende grens van Transvaal gebly. Die poging van M.W.Pretorius later om die grens tot aan die Ngamiemeer te skuif en om die Tati goudvelde in te sluit, het ook nie geslaag nie.
Op ’n Volksraadvergadering te Potchefstroom van 10 Januarie 1852 word hy aangewys as een van die afgevaardigdes, wat saam met Andries Pretorius met die Britse Kommissaris oor die erkenning van die onafhanklikheid van die Transvaal deur Brittanje moes onderhandel. Saam met die afvaardiging reis hy na die Suide waar hy een van die ondertekenaars van die Sandrivier Konvensie word. (Skrywer (Bertus) se vader het die plaas Sameloop besit, wat deel was van die oorspronklike plaas Sandrivierspoort, waar die Verdrag geteken is. Die plaas oorkant die rivier was bekend as De Barks (The Barracks) omdat daar ’n afdeling Pandoers gestasioneer was.)
Deur die Regering van die nuut erkende Republiek word hy in 1852 aangestel as Kommandant vir die distrik Marico (Argief R.410/52. Pretoria) en word ’n brief deur die Volksraad aan hom gerig met die opdrag om alle naturelle wat gebiede bewoon wat hulle na die omverwerping van die mag van Motselekatsi in besit geneem het, terug na hulle oorspronklike grond te stuur.
Later in dieselfde jaar, nl. Junie 1852 word dit deur die Volksraad aan Andries Pretorius en P.E. opgedra om met die Britse Kommissaris te Bloemfontein te gaan onderhandel oor Artikel 7 van die Sandrivier-Konvensie wat handel oor die wedersydse uitlewering van misdadigers. Hulle het terug rapporteer aan die Volksraad op ’n vergadering gehou te Magaliesburg op 12 Julie 1852.í]H
In terme van ’n opdrag van die Volksraad het hy in Augustus 1852 ’n kommando teen die naturellehoof Setsjelie aangevoer. Die naturellehoof het ’n deeglike afranseling ontvang, maar daardeur het Pieter Ernst hom die vurige haat van Livingstone op die hals gehaal. Livingstone se haat teen die Transvalers en tewens alle Afrikaners, was nooit onder stoele en banke weggesteeknie, maar ongelukkig het sy propaganda in Engeland teen hulle gepaard gegaan met sy gebrek aan liefde vir die waarheid - laasgenoemde gebrek mag selfs sy haat oortref het. (Sien Aanhangsel oor die Veldtog teen Setsjelie).
In sy boek "The Voortrekkers - The Story of the Great Trek and the making of South Africa" deur Johannes Meintjes, verwys hy (bl. 258) in verband met die Setsjelie kwessie na Pieter Ernstas die "landdros". Hy was Kommandant in bevel van die kommando.
Toe die regering van die Trekkers nog in Pietermaritzburg gesetel was, was die huidige Noord-Vrystaat vir administratiewe werk doeleindes aan Potchefstroom gekoppel en die verwantskap het sterk gebly want die omgewing het hulle meer met Pretorius vereenselwig as met Potgieter. Dit het sterk gebly nadat Pretorius gepoog het om die Britte uit die latere Vrystaat te verdryfmaar by Boomplaats die nederlaag gely het. Toe die Vrystaat in 1854 onafhanklik van Brittanje geword het, het ’n groep mense, in beide state, baie sterk die aansluiting tussen die twee state bepleit. ’n Petisie te dien effekte is op 8 September 1854 by die Vrystaatse Volksraad ingedien.
President M.W. Pretorius, van Transvaal, het daarvan gehoor en hy het hom na die Vrystaat gehaas om die beweging aan te moedig. Op 19 Augustus 1854 het ds. A.A. Louw van Fauresmith op die plaas van die twee Pretorius broers ten noorde van Valsrivier aangekom om nagmaaldienste te kom hou. Daar het hy nie alleen M.W. Pretorius maar ook kmdt. Piet Scholtz, kmdt. Adriaan Stander en Jan Kock gevind. Hulle was op reis na die suide om propaganda te kom maak vir die aansluiting van Transvaal en die Vrystaat.
Kmdt. Scholtz het briewe tot in die suidelike Vrystaat, waar hy nie onbekend was nie, versprei met die oproep tot die ondersteuners van die vereniging-gedagte om op 3 September 1854 te Bloemfontein te wees sodat Pretorius "op die troon van sy vader geplaas kon word." Pretorius het wel die Volksraad op daardie datum toegespreek, maar of hy reeds besef het dat die saak nieby die Vrystaters byval vind nie, is nie seker nie, want hy het die saak nie aangeroer nie net slegs gevra dat sekere gelde wat sy vader moes uitgee in die beweging wat te Boomplaats ten einde geloop het, aan hom terugbetaal word. Die Volksraad, wat so gou moontlik van al die gekriewel van die Transvaalse inmengers wou loskom, het ’n komitee benoem om Pretorius se eise te ondersoek. Tien dae later, op 13 September 1854 is J.P. Hoffman, wat die meerderheid van stemme met die verkiesing van 15 Mei ontvang het, as Staatspresident ingesweer.
Skrywer (Bertus) het ’n familie-oorlewering teëgekom nl. dat Pieter Ernst met die anneksasie van Transvaal deur Shepstone in 1877, met ’n prys op sy hoof na die Vrystaat gevlug het. Geenbevestiging hiervoor kan gevind word nie. Wat wel duidelik is, is dat hy gedurende die jaar 1870 alreeds in die Vrystaat woonagtig was. As na die doopdatums van sy kleinkinders gekyk word, dan wil dit voorkom dat die familie reeds na die afsterwe van sy eerste vrou na die Vrystaat getrek het.
Op 13 Januarie 1870 is ’n vergadering te Harrismith belê om te beraadslag oor die vasstelling van die grens tussen die Transvaal en die Vrystaat. (Sien Hertzog-Annale van die SA Akademievir Wetenskap en Kuns - Maart 1954.) ’n Paar van die ondertekenaars van die Sandrivier-Konvensie was teenwoordig om te getuig oor hoe die grens bepaal was. Daar word ook verwys na nog ’n ondertekenaar van die Konvensie, P.E. Scholts (soos hulle dit spel) wat toentertyd in die Vrystaat woonagtig was. Daar word besluit dat sy getuienis verkry moes word, omdat "de inlichtingen die wy van hem zullen krygen sowel voor de Oranje Vry Staat als voor deze Republiek" tot groot nut en voordeel kan wees. Aan die voorstel het President Brand met graagte saamgestem.
Indien P.E. se getuienis wel verkry is dan het hy deel gehad aan die vaslegging van sowel die Wes as die suid-oos grens van die Transvaal.
Sy gesondheid het steeds agteruitgegaan en op 5 Julie 1881, dus kort voordat die Transvaal weer onafhanklik geword het, is hy oorlede op die plaas Middelburg, wat aan sy seun behoort het.Of hy op die plaas of op die dorp Hoopstad begrawe is, kon die skrywer nog nie vasstel nie.
DIE KOMMANDO TEEN SETSJELIE
Nadat die Basoeto's vir Majoor Warden by Viervoet die loef afgesteek het, het die naturelle aan die Wesgrens van Transvaal ook ’n meer aggressiewe houding begin inneem. Nadat Setsjelie geweier het om veediewe uit te lewer het die Volksraad besluit dat ’n kommando teen hom gestuur moes word. Daar is besluit dat ’n kommando van 500 man, die grootste wat tot daardie tydstipin die Republiek byeengebring was, teen hom te velde moes trek. Die kommando onder aanvoering van Pieter Ernst het op 25 Augustus 1852 na die Wesgrens vertrek. (Rapport kmdt. Scholtz Vol. T 1/25 bl. 248. Argief, Pretoria.)
Op die 30ste, ’n Sondag, het die kommando voor Setsjelie se "vesting gelê en het nie die stryd begin nie. Kmdt. Scholtz het ’n beroep op Setsjelie gedoen om hom aan die gesag van die Republiek te onderwerp en om die skuldige persone uit te lewer. Omdat die kommandant nie op die Sondag die bevel tot die aanval gegee het nie, het die Naturelle gedink dat hulle kort van kruit was (Brittanje het nog steeds die verbod op die uitvoer van kruit na die Trekkers gehandhaaf.) Setsjelie het spottend aangebied om die Blankes kruit te leen. Deur middel van die boodskapper wat hierdie boodskap gebring het, het P.E. ’n waarskuwing aan Setsjelie gestuur om die vrouens en kinders in veiligheid te bring voordat die geveg die volgende oggend sou begin.Hierop het Setsjelie weerbarstig laat weet dat dit sy vrouens en kinders was en dat hy met hulle sou doen soos hy wil.
Die volgende oggend het hy ’n vernietigende neerlaag gely en die hele stam het paniekbevange op die vlug geslaan.
Op die 27ste alreeds, dus ’n paar dae voor die slag, het Pieter Ernst die burgers gewaarsku dat hulle onder geen omstandighede met die sendingstasie van Livingstone, wat by Setsjelie sendingwerk gedoen het, maar wie op daardie oomblik nie tuis was nie, te lok nie. Na die geveg is gevind dat daar by die sendingstasie ingebreek was. P.E. het persone, o.a. veldkornet Paul Kruger, daarheen gestuur om ondersoek in te stel en hy gee ’n volledige verslag van wat gevind was. In sy verslag meld hy dat dit meer na ’n geweersmit se werkswinkel gelyk het as na ’n sendingstasie. P.E. het beweer dat naturelle voor die slag daar ingebreek het om kruit en gewere in die hande te kry.
Met sy tuiskoms na die slag was Livingstone woedend en het allerlei beskuldinge teen kmdt. Scholtz en sy burgers die wêreld ingestuur.
Die Historikus, Agar-Hamilton, wat ’n deeglike ondersoek van die aangeleentheid gemaak het (sien Agar-Hamilton - "The Native Policy of the Voortrekkers") merk op dat Livingstone nooit onomwonde ontken het dat hy met die naturelle handel met gewere en kruit gedryf het nie. Verder toon hy aan dat Chapman, die grootwildjagter, wat goed bevriend was met die Sendelinge van die"London Missionary Society" aan die Wesgrens, openlik erken het dat Livingstone, net soos die meeste van die Engelse sendelinge destyds, handel in kruit en gewere gedryf het met die naturelle om hul karige salarisse aan te vul.
Livingstone se haat en woede teenoor die Republiekeine het hom nog verder verblind en hy skrywe na London - "The Commandant Scholtz has appropriated the children of Sechele to be his owndomestic salves." Hy meld egter darem dat ’n seun van Setsjelie, met die naam Kliossi, deur die tussenkoms van die Kommandant aan sy moeder terugebesorg was.
Agar-Hamilton wys terug daarop dat waar daar vrywillige terugbesorging was, daar nie sprake van slawerny kon gewees het nie. Hy toon verder aan, dat die ware toedrag van sake blykbaar was, dat omdat Setsjelie voor die geveg geweier het om die vrouens en kinders in veiligheid te bring, hulle toe Setsjelie en sy krygsmanne op die vlug geslaan het, paniekbevange geraak het toe hulle agtergelaat word en dat van die kinders toe sonder hulle ouers, in die hande van die burgers geval het. Na die slag het die burgers die kinders na die Kommandant gebring sodat besluit kon word wat om met hulle te doen. Dit was dan die slawerny klag van Livingstone. Hy meld net van die een kind wat terugegee is en nie van die ander nie.
Pieter Ernst het in sy hoedanigheid as Kommandant van die distrik Marico, ’n saak van opstoking tot opstand teen twee Engelse sendelinge Inglis en Edwards aanhangig gemaak. Volgens Edwards, het kmdt. Scholtz tydens die verhoor van die sendelinge in die hof te Rustenburg opgestaan en "op sy gewone bedaarde manier" en uit die boek Joshua aangehaal. (Edwards - Letter London Mission Society Records - Cape Town - 1854 - bl. 127.)
Die twee sendelinge het probeer om P.E. te beswadder en het briewe waarin hulle hom aanval na die "Bloemfontein Gazette" (20 Jan, 1853) en die "South African Commercial Advertiser" (31 Mei 1852) gestuur - dus nog voordat hy hulle by die hof aangekla het.
’n Kenmerk van die twee was dat hulle vetes en rusies met hulle mede-sendelinge sulke afmetings aangeneem het dat die sendinggenootskap hulle later ontslaan het.
Eienaar van die oorspronklike | Bertus Scholtz, Ian Scholtz |
Geskakel aan | Kommandant Pieter Ernst Scholtz |